Beleide oor teistering en kuberafknouery

Ons skeppers, kykers en vennote se veiligheid is ons hoogste prioriteit. Ons maak op elkeen van julle staat om ons te help om hierdie unieke en geesdriftige gemeenskap te beskerm. Dit is belangrik dat jy ons gemeenskapsriglyne verstaan, asook die rol wat hulle speel in ons gedeelde verantwoordelikheid om YouTube veilig te hou. Staan die tyd af om die onderstaande beleid sorgvuldig deur te lees. Jy kan ook na hierdie bladsy kyk vir ’n volledige lys van ons riglyne.

Ons laat nie inhoud toe wat iemand met uitgerekte beledigings of diskriminerende terme op grond van hul fisiese eienskappe of beskermdegroepstatus, soos ouderdom, gestremdheid, etnisiteit, gender, seksuele oriëntasie of ras, teiken nie. Ons laat ook nie ander skadelike optrede, soos dreigemente of nasnuffel, toe nie. Hou in gedagte dat ons ’n strenger benadering volg met inhoud wat minderjariges teiken.

As jy inhoud kry wat hierdie beleid oortree, moet jy dit aangee. Instruksies om oortredings van ons gemeenskapsriglyne aan te gee, is hier beskikbaar. As jy baie video’s of opmerkings kry wat jy wil aangee, kan jy die kanaal aangee. Bekyk die Skepperveiligheidsentrum en Bly veilig op YouTube vir wenke oor hoe om veilig te bly, jou rekening veilig te hou, en jou privaatheid te beskerm.

As spesifieke dreigemente teen jou gemaak word en jy onveilig voel, gee dit direk by jou plaaslike wetstoepassingsagentskap aan.

Wat hierdie beleid vir jou beteken

As jy inhoud plaas

Moenie inhoud op YouTube plaas as dit met enige van die beskrywings hieronder ooreenkom nie.

  • Inhoud wat uitgerekte beledigings of diskriminerende terme op grond van iemand se intrinsieke kenmerke bevat. Hierdie kenmerke sluit in hul beskermdegroepstatus, fisiese kenmerke of hul status as iemand wat seksuele aanranding, die verspreiding van niekonsensuele intieme prente, huishoudelike mishandeling, kindermishandeling en meer beleef het.
  • Inhoud opgelaai met die doel om ’n minderjarige te beskaam, te mislei, of te beledig. Dit beteken dat daar bedoel word om ’n minderjarige onaangename emosies te laat voel, soos angs, skaamte of waardeloosheid; die bedoeling om hulle te mislei om op maniere op te tree wat skade vir hulle of hul eiendom kan inhou; of om skeltaal teen hulle te gebruik. ’n Minderjarige is iemand onder 18 jaar oud.
Ander soorte inhoud wat hierdie beleid oortree
  • Inhoud wat niepublieke, persoonlik identifiseerbare inligting (PII) deel, dreig om dit te deel, of ander mense aanmoedig om dit te deel. 
    • PII sluit in, maar is nie beperk nie tot huisaddresse, e-posadresse, aanmeldeiebewyse, soos ’n gebruikernaam of wagwoord, foonnommers, paspoortnommers, mediese rekords of bankrekeninginligting.
    • Dit sluit nie die plasing van openbare inligting wat algemeen beskikbaar is in nie, soos ’n amptenaar se kantoorfoonnommer of ’n besigheid se foonnommer. 
    • Hierdie beleid is ook van toepassing op die deling van jou eie PII, die deling van iemand anders se PII, en situasies waar jy per ongeluk PII deel.
    • Inhoud moet duidelik aandui wanneer vals PII gedeel word. Byvoorbeeld, die gebruik van vals aanmeldeiebewyse as deel van opleiding.
  • Inhoud wat beledigende optrede aanmoedig, soos kubergroepsaanvalle (“brigading”). ’n Kubergroepsaanval is wanneer ’n individu die gekoördineerde mishandeling van ’n identifiseerbare individu op of buite YouTube aanmoedig.
  • Inhoud wat skadelike samesweringsteorieë bevorder of wat iemand teiken deur te beweer dat hulle deel is van ’n skadelike samesweringsteorie. ’n Skadelike samesweringsteorie is ’n teorie wat aan direkte dreigemente of gewelddadige optrede gekoppel kan word.
  • Inhoud wat ’n identifiseerbare individu of hul eiendom bedreig. Dit sluit implisiete dreigemente in wat nie ’n tyd of plek spesifiseer nie, maar wat byvoorbeeld ’n wapen kan bevat.
  • Inhoud wat ’n opgevoerde ontmoeting uitbeeld wat gebruik word om ’n identifiseerbare individu van ernstige wangedrag met ’n minderjarige te beskuldig, sonder die teenwoordigheid van wetstoepassers.
  • Inhoud waarin daar vreugde gevind word in of gespot word met die dood of ernstige besering van ’n identifiseerbare individu.
  • Inhoud wat oorlede minderjariges of slagoffers van dodelike of goed gedokumenteerde, groot, gewelddadige gebeurtenisse realisties naboots en hul dood of die geweld wat hulle beleef het, beskryf.
  • Inhoud wat skeppers uitbeeld wat ernstige geweldsdade teen ander mense naboots. Byvoorbeeld teregstellings, marteling, verminkings, aanrandings en meer.
  • Inhoud wat die teistering van ’n identifiseerbare individu bevat.
  • Inhoud wat iemand se rol as ’n slagoffer van ’n goed gedokumenteerde, groot gewelddadige gebeurtenis ontken of verklein.
  • Inhoud wat ongewenste seksualisering van ’n identifiseerbare individu bevat. Dit sluit in:
    • Inhoud wat iemand op ’n wellustige, vernederende en seksueel eksplisiete manier beskryf
    • Inhoud wat niekonsensuele intieme prente deel, versoek, of wys hoe om dit te versprei
    • Inhoud wat oor seksuele aanvalle fantaseer, dreig, of dit ondersteun

Hierdie beleid geld vir video’s, videobeskrywings, opmerkings, regstreekse strome en enige ander YouTube-produk of -kenmerk. Hou in gedagte dat dit nie ’n volledige lys is nie. Let daarop dat hierdie beleide ook op eksterne skakels in jou inhoud van toepassing is. Dit kan klikbare URL’e en ander vorme insluit, asook om gebruikers verbaal tydens die video na ander werwe toe te herlei.

Uitsonderings

As die primêre doel opvoedkundig, dokumentêr, wetenskaplik of artistiek van aard is, kan ons inhoud toelaat wat teistering insluit. Hierdie uitsonderings gee nie toestemming om iemand te teister nie. Sommige voorbeelde sluit in:

  • Debatte wat verband hou met hoëprofielamptenare of leiers: Inhoud met debatte of besprekings van aktuele kwessies rakende individue wat magsposisies het, soos hoëprofielregeringsamptenare of uitvoerende hoofde van groot multinasionale korporasies.
  • Gedramatiseerde optrede: Beledigings gemaak in die konteks van ’n artistieke medium soos gedramatiseerde satire, verhoogkomedie of musiek (soos ’n uithaalsnit). Let wel: Hierdie uitsondering gee nie toestemming om iemand te teister en te beweer “Ek het ’n grap gemaak nie.”
  • Teisteringopvoeding of -bewustheid: Inhoud wat werklike of gesimuleerde teistering bevat vir dokumentêre doeleindes of met gewillige deelnemers (soos akteurs) om kuberafknouery te bekamp of bewustheid te kweek.

Let wel: Ons tree strenger op teen inhoud wat iemand kwaadwillig beledig op grond van hul beskermdegroepstatus, ongeag of hulle ’n hoëprofielindividu is of nie.

Monetisering en ander strafmaatreëls

In sommige seldsame gevalle kan ons inhoud verwyder of ander strawwe uitreik wanneer ’n skepper:

  • Herhaaldelik beledigende gehoorgedrag aanmoedig.
  • ’n Identifiseerbare individu herhaaldelik oor verskeie oplaaie teiken, beledig en misbruik op grond van hul intrinsieke kenmerke.
  • ’n Individu aan risiko’s van fisiese skade blootstel gebaseer op die plaaslike sosiale of politieke konteks.
  • Inhoud skep wat die YouTube-gemeenskap benadeel deur aanhoudend vyandigheid tussen skeppers aan te hits vir persoonlike finansiële gewin.

Voorbeelde

Hier is ’n paar voorbeelde van inhoud wat nie op YouTube toegelaat word nie:

  • Herhaaldelik foto’s van iemand wys en dan stellings maak soos “Kyk na hierdie skepsel se tande, hulle is so walglik!”, met soortgelyke kommentaar wat intrinsieke kenmerke regdeur die video teiken.
  • Om ’n individu te teiken op grond daarvan dat hulle ’n lid van ’n beskermde groep is, soos om te sê: “Kyk na hierdie [beledigende term wat ’n beskermde groep teiken]!”
  • Om ’n individu te teiken en aansprake te maak dat hulle betrokke is by mensehandel in die konteks van ’n skadelike samesweringsteorie waar die sameswering gekoppel word aan direkte dreigemente of geweldsdade.
  • Die gebruik van ’n uiterste belediging om ’n individu onmenslik te maak op grond van hul intrinsieke kenmerke. Byvoorbeeld: “Kyk na hierdie hond van ’n vrou! Sy is nie eens ’n mens nie – sy is sekerlik ’n soort mutant of dier!”
  • Om ’n individu te teiken en te wens dat hulle dood of ernstig beseer is: “Ek haat haar so baie. Ek wens ’n vragmotor tref haar en sy gaan dood.”
  • Om ’n identifiseerbare individu uit te beeld wat vermoor of ernstig beseer word. Byvoorbeeld: ’n Video sluit ’n snit in uit ’n fliek waar een karakter doodgeskiet word. Die video is geredigeer sodat ’n regte individu se foto oor die akteur se gesig geplaas is.
  • Om iemand se fisiese veiligheid te bedreig. Dit sluit uitdruklike dreigemente in soos: “Saterdag wanneer ek jou sien, gaan ek jou doodmaak.” Dit sluit ook geïmpliseerde geweld in deur stellings te maak soos: “Jy moet oppas – ek gaan jou kry”, terwyl ’n wapen geswaai word.
  • Om ’n individu se niepublieke persoonlik identifiseerbare inligting, soos ’n foonnommer, huisadres of e-posadres, te plaas, of om afbrekende aandag of verkeer na hulle te stuur. Byvoorbeeld, om te sê: “Ek het hul foonnommer in die hande gekry. Bel en los boodskappe totdat hulle optel!”
  • “Indringing” in of die rig van kwaadwillige mishandeling van identifiseerbare individue deur stemklets in ’n speletjie of boodskappe tydens ’n stroom.
  • Om gebruikers aan te sê om afbrekende opmerkings in ’n ander skepper se opmerkingafdeling te maak.
  • Om te skakel na werwe buite die platform wat niekonsensuele intieme prente huisves of bevat.
  • Om te versoek dat ander gebruikers kontak maak om niekonsensuele intieme prente te deel.
  • “Swatting” of ander poetsoproepe na nood- of krisisreaksiedienste, of om kykers aan te moedig om in hierdie of enige ander teisterende gedrag op te tree.
  • Teistering of pogings om gebruikers af te pers.
  • Videospeletjie-inhoud wat ontwikkel of gewysig (“gemod”) is om geweld teen ’n individu te bevorder.

Onthou dat hierdie lys nie volledig is nie. Moenie inhoud plaas as jy dink dat dit dalk hierdie beleid oortree nie.

Wat gebeur as inhoud hierdie beleid oortree

As jou inhoud hierdie beleid oortree, sal ons die inhoud verwyder en vir jou ’n e-pos stuur om jou daaroor in te lig. Ons kan ’n skakel wat jy plaas verwyder as ons nie kan verifieer dat die skakel veilig is nie. Let daarop dat oortredende URL’e wat in die video self of in die video se metadata geplaas word, tot gevolg kan hê dat die video verwyder word.

As dit die eerste keer is dat jy ons gemeenskapsriglyne oortree, sal jy waarskynlik ’n aanmaning sonder enige straf vir jou kanaal kry. Jy sal die kans hê om aan beleidopleiding deel te neem sodat die aanmaning ná 90 dae kan verval. As dieselfde beleid egter binne daardie 90 dae oortree word, sal die aanmaning nie verval nie en sal jou kanaal ’n waarskuwing kry. As jy ’n ander beleid oortree nadat jy die opleiding voltooi het, sal jy nog ’n aanmaning kry.

As jy binne 90 dae 3 waarskuwings kry, sal jou kanaal beëindig word. Kom meer te wete oor ons waarskuwingstelsel.

Ons kan jou kanaal of rekening weens herhaalde oortredings van die gemeenskapsriglyne of diensbepalings beëindig. Ons kan ook jou kanaal of rekening beëindig ná ’n enkele geval van ernstige misbruik, of wanneer die kanaal aan ’n beleidskending toegewy is. Ons kan herhaalde oortreders verhoed om in die toekoms aan beleidopleiding deel te neem. Kry meer inligting oor kanaal- of rekeningbeëindigings.

Was dit behulpsaam?

Hoe kan ons dit verbeter?
Search
Vee soektog uit
Maak soekkassie toe
Hoofkieslys
2135891562137689417
true
Deursoek Hulpsentrum
true
true
true
true
true
59
false
false