Beleid op gewelddadige of grafiese inhoud

Ons skeppers, kykers en vennote se veiligheid is ons hoogste prioriteit. Ons maak op elkeen van julle staat om ons te help om hierdie unieke en geesdriftige gemeenskap te beskerm. Dit is belangrik dat jy ons gemeenskapsriglyne verstaan, asook die rol wat hulle speel in ons gedeelde verantwoordelikheid om YouTube veilig te hou. Staan die tyd af om die onderstaande beleid sorgvuldig deur te lees. Jy kan ook na hierdie bladsy kyk vir ’n volledige lys van ons riglyne.

Gewelddadige of grusame inhoud wat ten doel het om kykers te skok of te walg, of inhoud wat ander aanmoedig om gewelddadige dade te pleeg, word nie op YouTube toegelaat nie.

As jy glo dat iemand in dreigende gevaar is, moet jy met jou plaaslike wetstoepassingsagentskap in aanraking kom en die situasie dadelik rapporteer.

As jy inhoud kry wat hierdie beleid oortree, moet jy dit aangee. Instruksies om oortredings van ons gemeenskapsriglyne aan te gee is hier beskikbaar. As jy ’n paar video’s of opmerkings ontdek het wat jy wil aangee, kan jy die kanaal aangee.

Wat hierdie beleid vir jou beteken

As jy inhoud plaas

Moenie inhoud op YouTube plaas as dit met enige van die beskrywings hieronder ooreenkom nie.

Gewelddadige of grafiese inhoud

  • Die aansporing van ander om gewelddadige dade teen individue of 'n gedefinieerde groep mense te pleeg.
  • Bakleiery waarby minderjariges betrokke is.
  • Videomateriaal, oudio of beelde wat padongelukke, natuurrampe, die nadraai van oorlog of terroriste-aanvalle, straatgevegte, fisiese aanvalle, immolasie, marteling, lyke, betogings of onluste, rooftogte, mediese prosedures of ander soortgelyke scenario's behels waarvan die bedoeling is om kykers te skok of te walg.
  • Videomateriaal of beelde wat liggaamsvloeistowwe, soos bloed of braaksel wys, met die bedoeling om kykers te skok of te walg.
  • Videomateriaal van lyke met massiewe beserings, soos vermiste ledemate.

Dieremishandelinginhoud:

  • Inhoud waar mense diere dwing om te baklei.
  • Inhoud waar ’n mens ’n dier kwaadwillig mishandel en veroorsaak dat hulle pyn buite tradisionele- of standaardpraktyke ervaar. Voorbeelde van tradisionele of standaardpraktyke sluit jag of voedselvoorbereiding in.
  • Inhoud waar ’n mens ’n dier onnodiglik buite tradisionele of standaardpraktyke in swak omstandighede plaas. Voorbeelde van tradisionele of standaardpraktyke sluit jag of voedselvoorbereiding in.
  • Inhoud wat ernstige verwaarlosing, mishandeling of die besering van diere verheerlik of aanmoedig.
  • Inhoud wat die namaking van ’n reddingsproses van diere uitbeeld en die dier sodoende in onveilige scenario's plaas.
  • Grafiese inhoud met die kollig op diere wat ten doel het om te skok of te walg.

Gedramatiseerde of fiktiewe inhoud:

  • Gedramatiseerde of fiktiewe videomateriaal of inhoud wat deur hierdie riglyne verbied word, waar daar nie genoeg konteks aan die kyker gegee word om te verstaan dat die videomateriaal gedramatiseerd of fiktief is nie.

Let wel, ons laat nie die volgende tipe inhoud toe nie, selfs al is daar opvoedkundige, dokumentêre, wetenskaplike of artistieke konteks verskaf:

  • Gewelddadige fisiese seksuele aanranding (video, stilbeelde of oudio).
  • Videomateriaal wat tydens 'n dodelike of ernstige gewelddadige voorval deur die oortreder verfilm is, waarin wapens, geweld of beseerde slagoffers sigbaar of hoorbaar is.

Let asseblief daarop dat hierdie nie 'n volledige lys is nie.

Hou in gedagte dat hierdie beleid ook op video's, videobeskrywings, miniprente, opmerkings, regstreekse strome, en enige ander YouTube-produk of -kenmerk van toepassing is. Neem kennis dat hierdie beleide ook op eksterne skakels in jou inhoud van toepassing is. Dit kan klikbare URL'e en ander vorme insluit, asook om gebruikers verbaal tydens die video na ander werwe toe te herlei.

Opvoedkundige inhoud

Ons kan die bogenoemde gewelddadige of grafiese inhoud in sommige gevalle in opvoedkundige, dokumentêre, wetenskaplike of artistieke inhoud toelaat. Hierdie is nie toestemming om inhoud op te laai wat bedoel is om te skok of te walg of om ander aan te moedig om gewelddadige dade te pleeg nie, en ons maak hierdie uitsondering ook nie vir sekere tipe inhoud soos beeldmateriaal van gewelddadige fisiese seksuele aanranding nie. Opvoedkundige inhoud wat die bogenoemde tipes gewelddadige of grafiese inhoud bevat, moet hierdie konteks in die beelde of oudio van die video self duidelik maak. Dit is onvoldoende om dit in die titel of beskrywing te verskaf.

In die geval van opvoedkundige, dokumentêre, wetenskaplike of artistieke inhoud wat volwasse materiaal of grafiese geweld bevat, kan ons amptelike derdeparty-bedryfgraderings in ag neem om te besluit of die inhoud op YouTube mag bly. Vir inhoud wat ons beleide volg, maar nie vir alle gehore geskik is nie, word ’n ouderdomsbeperking toegepas. Niemand wat jonger as 18 is of wat uitgeteken is, kan inhoud met ’n ouderdomsbeperking kyk nie.

Inhoud met 'n ouderdomsbeperking

Ons kan moontlik 'n ouderdomsbeperking toepas eerder as om gewelddadige of grafiese inhoud te verwyder, indien daardie inhoud genoeg konteks verskaf om dit te verstaan. Inhoud wat slagoffers in ’n padongeluk se beserings wys kan byvoorbeeld verwyder word, maar ons kan ’n ouderdomsbeperking op dieselfde inhoud toepas as dit aangebied word met ’n nuusdekking wat die situasie en konteks verduidelik. Vir opvoedkundige gebruik van gewelddadige of grafiese inhoud, moet hierdie konteks in die beelde of oudio van die video self verskyn. Kry meer inligting oor die belangrikheid van konteks.

Ons oorweeg ook openbare belang wanneer ons besluit of inhoud verwyder moet word en of ’n ouderdomsbeperking toegepas moet word. Ons kan byvoorbeeld ’n ouderdomsbeperking toepas op grafiese of gewelddadige inhoud wat ’n oorloggebied dokumenteer.

Ons kan ook fiktiewe geweld onder ’n ouderdomsbeperking plaas, indien dit grafiese tonele bevat, soos mense waarvan die liggaamsdele afgeruk word of wat onthoof word, of menslike lyke wys met hierdie geweldige beserings. Gedramatiseerde geweld word oor die algemeen toegelaat wanneer die inhoud of metadata dit duidelik maak dat die inhoud fiktief is of wanneer dit aan die inhoud self duidelik is, soos met geanimeerde inhoud of videospeletjies.

Wanneer ons besluit om ’n ouderdomsbeperking op inhoud te plaas, òf om die inhoud te verwyder, oorweeg ons die volgende. Let daarop dat hierdie nie ’n volledige lys is nie:

  • Of gewelddadige of grusame tonele die fokus van die video is. Byvoorbeeld, die video fokus uitsluitlik op die mees grafiese gewelddadige deel van ’n fliek of videospeletjie.
  • Of die titel, beskrywing, merkers of ander data ten doel het om kykers te skok of walg.
  • Of gewelddadige tonele wasig gemaak, verberg of verduister is en of die oudio gedemp of verdoesel is.
  • Die hoeveelheid tyd wat die gewelddadige tonele of oudio in die inhoud teenwoordig is.
  • Of daar konteks is wat kykers laat weet dat die tonele gedramatiseerd of fiktief is. Byvoorbeeld, deur inligting in die video, titel of beskrywing.
  • Of die geweld deel is van ’n godsdienstige of kulturele praktyk, en of die oplaaier vir kykers daardie konteks gee.
  • Of die inhoud wys hoe ’n dier doodgemaak word deur tradisionele of standaardpraktyke hetsy deur dit te jag, deur godsdienstige praktyke of vir voedselvoorbereiding.

Hierdie beleid geld vir video's, videobeskrywings, opmerkings, regstreekse strome en enige ander YouTube-produk of -kenmerk.

Voorbeelde

Hier is 'n paar voorbeelde van inhoud wat nie op YouTube toegelaat word nie.

  • Om ander aan te moedig om geweld op ’n spesifieke plek of tyd te pleeg of om individue of groepe met geweld te teiken.
  • Werklike skoolwerfbakleiery tussen minderjariges. Ons mag inhoud toelaat waar dit vir kykers duidelik is dat die minderjariges net speelbaklei.
  • ’n Geslanery of bakleiery buite die konteks van ’n professionele sportbyeenkoms of ’n sportbyeenkoms met professionele toesig.

Meer voorbeelde

Gewelddadige of grafiese inhoud
Die volgende soorte inhoud word nie op YouTube toegelaat nie. Hierdie is nie ’n volledige lys nie.
  • Videomateriaal van mediese prosedures waar die inhoud op oop wonde fokus en geen opvoedkundige waarde of verduideliking aan kykers gee nie.
  • Videomateriaal van misdaad soos gewelddadige rooftogte wat geen opvoedkundige waarde of verduideliking aan kykers gee nie.
  • Videomateriaal van ’n selfoon, instrumentpaneelkamera of geslotekring-TV wat beseerde of oorlede slagoffers van ’n padongeluk wys, met gepaardgaande titels soos “Mal ongeluk” of “Waarskuwing: Baie bloed.”
  • Video's van onthoofding.
  • Eensydige aanrandings met titels soos "Kyk hoe word hierdie ou opgemors!".
Dieremishandelinginhoud
Dieremishandeling verwys na inhoud wat wys hoe ’n dier kwaadwillig ernstige fisiese of sielkundige leed aangedoen word, wat veroorsaak dat die dier ly. Ons kan uitsonderings maak vir inhoud wat wys hoe ’n dier of groep diere leed aangedoen word deur algemeen aanvaarde praktyke, soos jag, die gebruik van lokvalle, plaagbestryding, voedselvoorbereiding, mediese behandeling, of die slag van diere.

Hier is nog voorbeelde van inhoud wat nie op YouTube toegelaat word nie.

  • Hondegevegte, hanegevegte of ander geforseerde dieregevegte waar mense diere dwing om mekaar aan te val. Ons laat wel inhoud van diere wat in die natuur baklei toe, soos in natuurdokumentêre.
  • Inhoud wat wys hoe diere ly, verwaarloos of sleg behandel word en ten doel het om die kyker te skok of om die mishandeling te verheerlik, en nie genoeg opvoedkundige, dokumentêre, wetenskaplike of artistieke konteks gee nie.
  • Bulgevegte waar bulle beseer word, soos swaarde in die bul.
  • Jag deur middel van niestandaard praktyke, soos bomme of gif.
  • Die uitbeelding van hoe ’n dier gered word, waar die dier doelbewus leed aangedoen word of vir dramatiese effek in gevaarlike scenario's geplaas word.

Die bostaande lys is nie volledig nie.

Onthou dat hierdie net ’n paar voorbeelde is, so moet dus nie inhoud plaas wat jy dink moontlik hierdie beleid sal oortree nie.

Wat gebeur as inhoud hierdie beleid oortree

As jou inhoud hierdie beleid oortree, sal ons die inhoud verwyder en vir jou ’n e-pos stuur om jou daaroor in te lig. Ons kan ’n skakel wat jy plaas verwyder as ons nie kan verifieer dat die skakel veilig is nie. Let daarop dat oortredende URL’e wat in die video self of in die video se metadata geplaas word, tot gevolg kan hê dat die video verwyder word.

As dit die eerste keer is dat jy ons gemeenskapsriglyne oortree, sal jy waarskynlik ’n aanmaning sonder enige straf vir jou kanaal kry. Jy sal die kans hê om aan beleidopleiding deel te neem sodat die aanmaning ná 90 dae kan verval. As dieselfde beleid egter binne daardie 90 dae oortree word, sal die aanmaning nie verval nie en sal jou kanaal ’n waarskuwing kry. As jy ’n ander beleid oortree nadat jy die opleiding voltooi het, sal jy nog ’n aanmaning kry.

As jy binne 90 dae 3 waarskuwings kry, sal jou kanaal beëindig word. Kom meer te wete oor ons waarskuwingstelsel.

Ons kan jou kanaal of rekening weens herhaalde oortredings van die gemeenskapsriglyne of diensbepalings beëindig. Ons kan ook jou kanaal of rekening beëindig ná ’n enkele geval van ernstige misbruik, of wanneer die kanaal aan ’n beleidskending toegewy is. Ons kan herhaalde oortreders verhoed om in die toekoms aan beleidopleiding deel te neem. Kry meer inligting oor kanaal- of rekeningbeëindigings.

Was dit behulpsaam?

Hoe kan ons dit verbeter?
Search
Vee soektog uit
Maak soekkassie toe
Hoofkieslys
5674386756978308029
true
Deursoek Hulpsentrum
true
true
true
true
true
59
false
false