Beleide oor verkeerde inligting

Sekere soorte misleidende of bedrieglike inhoud met ernstige risiko van erge skending word nie op YouTube toegelaat nie. Dit sluit sekere soorte verkeerde inligting in wat werklike skade kan veroorsaak, soos sekere soorte tegnies gemanipuleerde inhoud, of inhoud wat met demokratiese prosesse inmeng.

As jy inhoud kry wat hierdie beleid oortree, moet jy dit aangee. Instruksies om oortredings van ons gemeenskapsriglyne aan te gee, is hier beskikbaar. As jy veelvuldige video’s of opmerkings gekry het wat jy wil aangee, kan jy die kanaal aangee.

Wat hierdie beleide vir jou beteken

As jy inhoud plaas

Moenie inhoud op YouTube plaas as dit by enige van die beskrywings hieronder pas nie.

  • Onderdrukking van sensusdeelname: Inhoud wat daarop gemik is om sensusdeelnemers te mislei oor die tyd, plek, wyse of geskiktheidsvereistes van die sensus, of vals bewerings wat sensusdeelname wesenlik kan ontmoedig.
  • Gemanipuleerde inhoud: Inhoud wat tegnies gemanipuleer is of op ’n manier gedokter is om gebruikers te mislei (gewoonlik meer as net snitte wat buite konteks gebruik word) en ’n ernstige risiko van erge skending kan inhou.
  • Inhoud wat verkeerd toegeskryf is: Inhoud wat ’n ernstige risiko van erge skending kan inhou deur valslik voor te gee dat ou beeldmateriaal van ’n gebeurtenis in die verlede dié van ’n huidige gebeurtenis is.

Voorbeelde

Hier is ’n paar voorbeelde van inhoud wat nie op YouTube toegelaat word nie.

Onderdrukking van sensusdeelname
  • Om verkeerde instruksies te gee oor hoe om aan die sensus deel te neem.
  • Om deelname aan die sensus te ontmoedig deur valslik te beweer dat ’n respondent se immigrasiestatus aan wetstoepassers gerapporteer sal word.
Gemanipuleerde inhoud
  • Video-onderskrifte wat verkeerd vertaal is en wat geopolitieke spanning aanvuur, skep ’n ernstige risiko van erge skending.
  • Video’s wat tegnies gemanipuleer is (gewoonlik meer as net snitte wat buite konteks gebruik word) om dit te laat lyk of ’n regeringsamptenaar dood is.
  • Video-inhoud wat tegnies gemanipuleer is (gewoonlik meer as net snitte wat buite konteks gebruik word) om gebeurtenisse te versin waar daar ’n ernstige risiko van erge skending is.
Inhoud wat verkeerd toegeskryf is
  • Inhoud wat verkeerdelik voorgehou word as dat dit menseregteskendings in ’n spesifieke ligging weergee terwyl dit in werklikheid inhoud van ’n ander ligging of gebeurtenis is.  
  • Inhoud wat militêre ingryping teen betogers wys met vals bewerings dat die inhoud van ’n huidige gebeurtenis is, terwyl die videomateriaal in werklikheid ’n paar jaar oud is.

Onthou dat dit net ’n paar voorbeelde is, en moenie inhoud plaas as jy dink dat dit dalk hierdie beleide oortree nie. Neem kennis dat hierdie beleide ook op eksterne skakels in jou inhoud van toepassing is. Dit kan klikbare URL’e en ander vorme insluit, asook om gebruikers verbaal tydens die video na ander werwe toe te herlei.

Opvoedkundige, dokumentêre, wetenskaplike of artistieke inhoud

Ons sal dalk inhoud toelaat wat die beleide oor verkeerde inligting oortree wat op hierdie bladsy genoem word as daardie inhoud bykomende konteks in die video, oudio, titel of beskrywing insluit. Dit moenie beskou word as toestemming om verkeerde inligting te bevorder nie. Ons kan uitsonderings maak as die doel met die inhoud is om verkeerde inligting wat ons beleide oortree, te veroordeel, te betwis, of te spot.

Ons laat ook persoonlike meningsuiting oor bogenoemde onderwerpe toe mits dit nie andersins enige van die beleide hier bo uiteengesit oortree nie.

Wat gebeur as inhoud hierdie beleid oortree

As jou inhoud hierdie beleid oortree, sal ons die inhoud verwyder en vir jou ’n e-pos stuur om jou daarvan te laat weet. As ons nie kan verifieer dat ’n skakel wat jy plaas veilig is nie, kan ons die skakel verwyder.

As dit die eerste keer is dat jy ons gemeenskapsriglyne oortree, sal jy waarskynlik ’n aanmaning sonder enige straf vir jou kanaal kry. Indien nie, kan ons ’n waarskuwing teen jou kanaal uitreik. As jy binne 90 dae 3 waarskuwings kry, sal jou kanaal beëindig word. Jy kan hier meer inligting oor ons waarskuwingstelsel kry.

Ons kan jou kanaal of rekening weens herhaalde oortredings van die gemeenskapsriglyne of diensbepalings beëindig. Ons kan ook jou kanaal of rekening beëindig ná ’n enkele geval van ernstige misbruik, of wanneer die kanaal aan ’n beleidskending toegewy is. Jy kan hier meer oor kanaal- of rekeningbeëindigings te wete kom.

Was dit behulpsaam?

Hoe kan ons dit verbeter?
Search
Vee soektog uit
Maak soekkassie toe
Hoofkieslys
17333773288907848368
true
Deursoek Hulpsentrum
true
true
true
true
true
59
false
false